Terme en Voorwaardes
Laas opgedateer: 15 September 2026
1. Wie jy mee handel
Hierdie webwerf, en alle bestellings en betalings daarop, word bedryf deur Brandmill (Pty) Ltd (registrasienommer 2013/078200/07), handeldrywend as Marius Media House ("ons"). Ons bestuur boekings en verkope namens Marius Els. Jou ooreenkoms is met ons, en betalings word aan ons gemaak.
- Adres
- 8 Langenhovenstraat, Heilige Akker, Potchefstroom, 2520
- E-pos
- info@brandmill.co.za
- Telefoon
- +27 83 656 4815
Deur 'n bestelling te plaas of 'n boeking te maak, aanvaar jy hierdie terme.
2. Wat ons aanbied
- Persoonlike videoboodskappe: 'n kort video wat Marius spesiaal vir jou of iemand anders opneem (verjaarsdae, gelukwense, grappe, aanmoediging).
- Promosie-inhoud vir besighede: video's of plasings waarin Marius jou produk, diens of geleentheid bekendstel.
- Verskynings en optredes: Marius by jou geleentheid, funksie of aktivering. Hierdie word per navraag gekwoteer.
Pryse wat op die webwerf vertoon word, sluit BTW in waar van toepassing, en is in Suid-Afrikaanse rand.
3. Bestellings en betaling
- Betalings op die webwerf word deur Yoco se beveiligde betaalblad verwerk. Ons sien of stoor nooit jou kaartbesonderhede nie.
- 'n Bestelling is eers bevestig wanneer ons betaling ontvang het. Jy kry 'n bevestiging per e-pos.
- Vir verskynings en optredes stuur ons 'n kwotasie. Die boeking is bevestig wanneer die kwotasie aanvaar en die deposito betaal is.
- Afslagkodes geld slegs vir die produkte, tydperk en aantal bestellings wat by die kode aangedui word, kan nie gekombineer word nie, en het geen kontantwaarde nie.
4. Aflewering van videoboodskappe en promosie-inhoud
- Ons lewer videoboodskappe binne 3 dae na betaling af. As jy by bestelling 'n datum gee waarteen dit klaar moet wees, lewer ons teen daardie datum. Is dit baie dringend, laat ons gerus weet, dan sê ons spoedig of ons dit kan doen.
- Die video word per WhatsApp of e-pos gestuur na die kontakbesonderhede wat jy verskaf het.
- Marius besluit self hoe hy die boodskap oordra. Jy kan ons vertel wat jy wil hê die boodskap moet insluit, maar die bewoording, styl en lengte is sy eie.
- Promosie-inhoud word voor plasing met jou bevestig. Een ronde redelike veranderinge is ingesluit.
5. Wat ons kan weier
Marius kan enige versoek weier of 'n boeking kanselleer wat, na ons oordeel, haatspraak, teistering, politieke of godsdienstige propaganda, onwettige inhoud, of iets wat sy reputasie skade kan doen, behels. In so 'n geval betaal ons jou volle bedrag terug.
6. Kansellasies en terugbetalings
Videoboodskappe en promosie-inhoud
- Jy kan kanselleer en 'n volle terugbetaling kry solank ons nog nie met die opname begin het nie. Stuur 'n e-pos na info@brandmill.co.za.
- Sodra 'n video afgelewer is, kan dit nie teruggegee word nie en is dit nie terugbetaalbaar nie, omdat dit 'n persoonlike, op-maat-gemaakte produk is.
- As ons nie teen die datum wat jy gegee het aflewer nie, of, sonder so 'n datum, nie binne 14 dae na betaling nie, en ons het nie 'n ander datum met jou ooreengekom nie, kan jy 'n volle terugbetaling eis.
Verskynings en optredes
- Kansellasie meer as 14 dae voor die geleentheid: volle terugbetaling van die deposito.
- Kansellasie 14 dae of minder voor die geleentheid: die deposito word verbeur.
- As Marius weens siekte of onvoorsiene omstandighede nie kan opdaag nie, bied ons 'n nuwe datum aan, of betaal ons alles wat jy betaal het terug.
Terugbetalings word na dieselfde kaart of rekening gemaak waarmee betaal is, binne 10 werksdae nadat dit goedgekeur is.
7. Gebruik van die inhoud
- 'n Persoonlike videoboodskap is vir jou eie, private gebruik. Jy mag dit met vriende en familie deel, maar nie kommersieel gebruik of as advertensie plaas nie.
- Vir promosie-inhoud kry jy 'n lisensie om die inhoud vir jou eie bemarking te gebruik, vir die tydperk en op die platforms wat in jou bestelling aangedui is.
- Marius en Marius Media House behou die reg om inhoud wat vir jou gemaak is op hul eie kanale te wys, tensy jy ons by bestelling vra om dit nie te doen nie.
8. Jou inligting
Hoe ons jou persoonlike inligting hanteer, word in ons Privaatheidsbeleid verduidelik.
9. Aanspreeklikheid
Ons aanspreeklikheid teenoor jou is beperk tot die bedrag wat jy vir die betrokke bestelling betaal het. Niks in hierdie terme beperk regte wat jy onder die Wet op Verbruikersbeskerming het nie.
10. Klagtes en geskille
Praat eers met ons: info@brandmill.co.za of +27 83 656 4815. Ons probeer enige klagte binne 5 werksdae oplos. Hierdie terme word deur die reg van die Republiek van Suid-Afrika beheer.
11. Veranderinge
Ons kan hierdie terme van tyd tot tyd opdateer. Die weergawe wat geld, is die een wat op die datum van jou bestelling op die webwerf was.